
Ek is gebore in Bloemfontein, het groot geword op Klerksdorp, ‘n ruk gewoon in Kaapstad, en is nou langer as ‘n dekade in Pretoria.
Ek neem nie aan optogte deel nie, skree onbeskaamd nié vir die Blou Bulle nie, wil nie krieket leer verstaan nie, kyk ook nie sepies nie - maar min dinge is so bitter lekker as om “play” te druk op die ateljee se CD-speler. My eerste ondervinding van omroeper speel, was toe ek in 1992 (toe standerd 9) die trompoppies se klanktoerusting gesteel en aan die skool se PA-stelsel gekoppel het. Vir een pouse het leerlinge na lekker musiek geluister, maar ek was in groot moeilikheid.
Die res is geskiedenis, alhoewel my loopbaan na skool wye draaie moes loop voor ek by Rippel 90.5 beland het. Wat ‘n voorreg om daagliks te doen waarvoor ek lief is en boonop by ‘n radiostasie betrokke te kan wees wat Jesus Christus dien!
Ek het my liefde vir musiek saam met moedersmelk ingekry en versamel musiek al van kleins af: meestal musiek uit die 80’s, klankbane van rolprente en goeie, ou rock. Gunstelinge is Lynyrd Skynyrd, Queen, Aerosmith, Dire Straits, U2 en Bruce Springsteen. Ouer musiek soos dié van Elvis, Cat Stevens, Johhny Otis en CCR sal altyd deel wees van my musiekversameling.
Daarbenewens is ek kitaar-mal (my Fender Strat’ is my trots…ook ons buurman se grootste frustrasie) en ek glo heimlik dat Eddie van Halen die ware Superman is. Foto’s van Eric Clapton, Gary Moore, Dan Patlansky en Steve Vai versier my mure. Dit wat Robert Mitchley en Mel Botes met ‘n kitaar kan doen, gee hoendervleis.
Ek is beslis trots Afrikaans! Die musiek van Jan Blohm, Piet Botha, Anton Goosen en Karen Zoid inspireer my daagliks. ‘n Lekker stukkie Boeremusiek saam met ‘n braaivleisvuur is ook nooit te versmaai nie. Gooi mielies!
Ek is gelukkig getroud met Willem en is ‘n baie trotse ma vir Martin.
My motto: “Play it LOUD!”
E-mail:

|