
Gebore en gelos in Pretoria. Was ‘n trotse Laerskool Wonderboom-leerling en ek het defnitief wonderlike kinderjare gehad, al het mens nie op daardie stadium so gedink nie!
Ek was in Hoërskool Overkruin, en ek dink nie mens sal vandag meer sulke lekker skooldae hê soos in daardie tyd nie.
Daarna het ek drama by Tukkies gaan studeer en direk daarna by die SAUK in Weavindpark, Pretoria, gaan aanklop om my klankopleiding te doen. Dit was ook daar waar ek vir Kobus Rudolph en Rina van Rippel ontmoet het.
Ek het so ’n bietjie televisiewerk gedoen in die 80’s (onder andere Die wel en weë van Thys Coetzee), maar wou my eerder toegespits op radio - so tussen my privaat lewe en kinders deur.
Daardie dae het ons nog lekker in hierdie radiostories, wat smiddae uitgesaai is, gespeel. Stemwerk vir advertensies was ook ’n deurgaanse tydverdryf en ek was in die vroeë 1990’s ’n omroeper saam met Glen Kapetanopoulos vir die destydse Radio Jakaranda, van 24:00 tot 06:00.
Ek het in 2007 ‘n draai gemaak in een episode van 7de Laanr as ontvangsdame van die spa waar Kabelo sy kaskenades met die dames uitgehaal het.
Ek werk bedags by ’n mediese instansie. Ek geniet my werk en die interaksie met die mense om my baie. Ek waardeer wat ek het en is baie gelukkig om kinders te hê wat die lewe saam met my stap sonder om te kla. Hulle is ook sonder twyfel my beste vriende en ondersteuners en ook die rede vir my elke dag se uitsien na môre!
Ek glo kinders en diere is van die grootste seëninge wat ons Skepper vir ons kon gee en hulle is baie na aan my hart.
E-mail:

|