26 September, 2008

Vrydag 26 September 2008


Die Nuus om Een


……………………....................................................................
.....


**  Die Afrikanerbond vra die nuwe president om gemeenskappe weer nader aan
mekaar te bring,


**  Passasierstrein in Pakistan ontspoor ná ‘n bomontploffing, EN


**  ‘n Rugbyspeler van Grens word ‘n jaar lank geskors.


............................................................................
.............................


***  Die Afrikanerbond het president Kgalema Motlanthe met sy verkiesing
gelukgewens en die hoop uitgespreek dat hy die roete van versoening sal loop
en gemeenskappe weer nader aan mekaar sal bring.

Die voorsitter van die Afrikanerbond, Piérre Theron, sê in ‘n brief aan
Motlanthe die verskillende Suid-Afrikaanse gemeenskappe het die laaste paar
jaar meer gepolariseer en gemarginaliseer geraak het as gevolg van
beleidsuitvoering en openbare standpunte  onder andere van oud-president
Thabo Mbeki.

Hy sê die leierskap van die organisasie wil baie graag met Motlanthe in
gesprek tree oor ‘n aantal sake waar die Afrikanerbond en sy lede wil bydra
om Suid-Afrika te laat werk.



***  Theron sê hulle wil graag opbouend praat oor regstellende aksie, die
onderwys-krisis, misdaad en swak dienslewering.


Die Afrikanerbond wil ook voorstelle maak oor straat- en
dorpsnaamsveranderinge wat tans eensydig afgedwing word.




***  Die hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, Blade
Nzimande, sê die ANC se besluit om oud-president Mbeki te herroep, was
polities gemotiveer.

Hy het tydens die opening van die party se beleidskonferensie in
Johannesburg gesê onder Mbeki se leierskap moes die ANC verskeie kere vure
doodslaan.

Hy het onder meer verwys na die aanstelling van die SAUK-raad en die
skorsing van die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging.



***  Die Inkatha Vryheidsparty het die besluit deur die burgemeester van
Ekurhuleni om die omstrede hoof van die metropolisie, Robert McBride, te
ontslaan, verwelkom.

IVP-woordvoerder Velaphi Ndlovu sê McBride het net moeilikheid beteken en hy
het ‘n swak voorbeeld as metropolisiehoof gestel.

Hy sê dit was ‘n tipiese voorbeeld van die ANC se beleid van baantjies vir
boeties ingevolge waarvan mense vir hulle lojaliteit beloon en in magtige
posisies aangestel word sonder dat hulle die kwalifikasies het om ‘n sukses
daarvan te maak.

Ndlovu sê dit is egter belaglik dat die Ekurhuleni-belastingbetalers steeds
vir McBride se regskostes moet betaal.



***  Die swaardmoordsaak teen die 18-jarige Morné Harmse is vanoggend in die
Krugersdorpse landdroshof tot 24 Oktober uitgestel.

Die Sterkfontein psigiatriese hospitaal het aangedui dat hy nog 30 dae nodig
het om ‘n sielkundige verslag oor Harmse op te stel.

Dié voormalige matriekleerling van die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in
Krugersdorp is op 18 Augustus op die skoolterrein in hegtenis geneem nadat
hy glo ’n medeleerling, die 16-jarige Jacques Pretorius, met ’n swaard
vermoor het.

Harmse was nie in die hof nie.



***  Minstens vier mense is dood toe ‘n passasierstrein in sentraal-Pakistan
ontspoor het nadat ‘n bom op die spoorlyn ontplof het.

‘n Senior spoorwegamptenaar, Khalid Amin, sê minstens 15 mense is beseer in
die voorval naby die stad, Bahawalpur.

Hy het aan die AFP-nuusagentskap gesê die bom het ontplof toe die trein
daaroor gery het.



***  Rugbynuus is dat die stut van Grens, Lonwabo Mtimka, ‘n jaar lank uit
alle rugby geskors is nadat hy deur ‘n tugkomitee van die Suid-Afrikaanse
Rugby-unie skuldig bevind is op ‘n aanklag dat hy ‘n opkikker gebruik het.

Hy is ná ‘n eersteliga-Curriebekerwedstryd teen die Luiperds op 9 Augustus
positief getoets vir ‘n stimulant, Salbutamol.

Mtimka het tien dae om teen die skorsing te appelleer.



***  Tennis:  Nog ‘n topgekeurde in die vroue-enkelspel van die Sjinese Ope
in Beijing is uitgeskakel.

Die voormalige nommer een speler in die wêreld, Ana Ivanovic van Serwië –
wat tweede gekeur was – is in die kwarteindronde deur Zheng Jie van Sjina
uitgeskakel.

Die telling was 7-6, 2-6 en 6-4.

Zheng is 30ste op die wêreldranglys.



***  Finansiële nuus:  Die rand verhandel op agt rand 15 sent teenoor die
dollar, op 14 rand 99 sent teenoor die pond en op 11 rand 88 sent teenoor
die euro.

Goud het kort gelede verhandel op 871 dollar 95 sent per fynons.

Die jongste prys van Brent Noordsee-olie is 101 dollar 99 sent per vat.

website design & hosting by Intoweb